Melkboere wat nie manalleen kan uitbrei nie, moet ter wille van oorlewing in groepe begin saamwerk.
Dít was die boodskap op die Vrystaatse kongres van die Melkprodusente-organisasie (MPO) in Bloemfontein. Dié beroep kom te midde van een van die ergste laagtepunte waarin die bedryf homself nóg bevind het.
Koöperasies
Mnr. Bertus de Jongh, besturende direkteur van die MPO, het gesê die melkbedryf se “knak” het begin toe koöperasies daarmee heen is. “Dit was die regte ding om die rade (met deregulering van die landbou in die 1990’s) toe te maak, want hulle het politieke meganismes geword. Maar die grootste slag was toe ons ons koöperasies verloor het,” het hy gesê.
Hy het daarop gewys dat melkprodusente in ’n kommoditeitsbedryf is. Die aard van só ’n bedryf is dat ’n derde van die verskaffers gewoonlik goed doen, die middelste derde doen redelik, en die onderste derde dink aan uitverkoop. As die bedryf in ’n swak ekonomiese siklus is, is daar gewoonlik meer verskaffers aan die onderpunt.
Die laaste groep is aan die “roofdiere” van die vrye mark uitgelewer. Die groot daling in die getalle van Suid- Afrikaanse melkboere – vanaf 30 000 in die 1980’s tot 2 600 tans − duur steeds voort. De Jongh voorsien nie dat dit noodwendig gou gestuit gaan word nie, maar hy benadruk dat die daling ook met ’n verskuiwing na mededingendheid gepaardgegaan het.
Mededdingend
Terwyl Suid-Afrika se melkboere nie in die 1980’s met hul eweknieë in die res van die wêreld kon meeding nie, is dié wat nou oorgebly het, wel mededingend. “Ons produseer vandag teen van die laagste produksiekoste ter wêreld.” Die land se melkproduksie het ook toegeneem − vanaf 1,9 miljard liter in 2002 tot 2,7 miljard liter vanjaar.
"Die gemiddelde produksie per boer is ’n bietjie meer as 3 000 liter per dag en 16% van ons boere produseer meer as 8 000 liter per dag. Hierdie 16% se gemiddelde produsenteprys is 25% hoër as wat die groep boere verdien wat minder as 1 000 liter per dag produseer.
"Daarom moet boere wat nie self kan uitbrei nie, groepe begin vorm wat saam hul melk lewer om groter bedingingsmag te hê. “Dit is die reëls van vandag se spel: Jy móét prysonderhandeling-vermoë hê,” het De Jongh gesê.
27 Augustus 2011