
Dié melkery is as die Noord-streek se wenner van die nuwe Logix Elite-suiwelboerkompetisie aangewys. Mnr. Joubert Fourie van die wen-melkery het ná die aankondiging hulde gebring aan almal wat saam met hom werk.
“Sonder die span op die plaas, kan ons dit nie regkry nie. Die melkery het drie jaar gelede die helfte van sy kudde weens brusellose verloor, maar het dié uitdaging met sukses oorkom.” Fourie is vroeër vanjaar as nasionale Meestersuiwelboer van 2013 aangewys. Hy sê vir 'n suksesvolle melkery is dit baie belangrik dat aandag aan fyn besonderhede gegee word. “Elke ou moet sy verantwoordelikheid nakom.”
Benewens Limpopo-melkery was die ander drie platinumwenners mnre. Japie Nel van Schweizer Reneke, Job Legemaat van Rayton en Jan-Willem Lotz van Amersfoort. Volgens dr. Japie van der Westhuizen, hoof van produksie-aantekening by SA Stamboek, sal daar die res van die jaar in nog vier streke Logix Elite-suiwelboerwenners aangewys word en sal die nasionale wenner in April aanstaande jaar as deel van die SA Stamboek-galadinee en Logix-teeltsimposium bekend gemaak word.
Alle kuddes wat aan SA Stamboek se Logix-melkaantekening deelneem, word vir beoordeling in ag geneem. In die eerste beoordelingsfase – vir brons, silwer en goue sertifikate – word inligting uit melkaantekening gebruik en word kuddes aan agt kriteria gemeet. Die belangrikste twee, wat saam net meer as 50% tel, is produksie en reproduksie.
Dan word die twee tot vier beste kuddes uit die goue groep gekies om platinumsertifikate te ontvang en deur 'n groep kenners vir beoordeling op die plaas besoek te word. Die kenners moet konsensus bereik oor hoe die kudde vaar rakende alle aspekte van teling en genetika, gesondheid, winsgewendheid, oorlewing, reproduksie vir alle ouderdomsgroepe diere en in melk- en droë koeie.
Ander aspekte soos higiëne, omgewingsinvloed, melkproses en staldoeltreffendheid, voedingsbestuur en dierewelstand speel ook 'n rol in die puntetoekenning. Van der Westhuizen sê die beoordelaars beplan om volledig terugvoer te gee oor wat 'n kudde goed maak.
“Die einddoel is om met melkboere hande te vat om doeltreffendheid te verhoog.”
Mnr. Joubert Fourie van Limpopo-melkery saam met sy kuddebestuurder, mnr. Willa Vorster, met die sertifikaat wat die melkery as die eerste Logix Elite-suiwelwenner in die Noord-streek gewen het.
FOTO: CARIEN KRUGER