
Verskeie instansies met belange in die melkbedryf gaan vertoë rig aan Nedlac (National Economic Development and Labour Council) om die ernstige finansiële krisisse waarin veral die primêre produsente hulle tans in Suid-Afrika bevind, onder die instansie se aandag te bring want aandag en en optrede is dringend nodig.
Dié besluit is geneem tydens ’n spesiale vergadering wat mnr. Gielie de Kock, bekende melkboer van Witsand in die Suid-Kaap, byeengeroep het. Die vergadering is op Elsenburg, navorsingsplaas van die Wes-Kaapse Departement van Landbou gehou, en is bygewoon deur afgevaardigdes van die Melkprodusente-Organisasie (MPO), Agri Wes-Kaap, die Nasionale Departement van Landbou, SAMELKO, Cosatu, die bankbedryf en melkprodusente.
Mnr. Tony Ehrenreich van Cosatu het gesê ’n bedryfsplan is dringend nodig om die suiwelbedryf op koers te kry. “As een swaar kry, kry almal swaar in die bedryf – ook die werkers”.
Asonderlik vertoëDaarom is besluit dat vanaf Cosatu Nasionaal, die Nasionale MPO, Agri SA, die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye asook De Kock self, namens melkboere op grondvlak, afsonderlik vertoë aan Nedlac sal rig waarin die geweldige ekonomiese probleme waarin die suiwelbedryf hom bevind, onder die vergrootglas geplaas word.
Dit sal onder andere uitgewys word dat die suiwelbedryf onder huidige omstandighede nie volhoubaar is nie – stygende produksiekoste en dalende produsentepryse maak die plaaslike bedryf baie seer.
Onder die probleme wat die bedryf knel, is invoer, wat soms op blote storting neerkom, asook die gebrek aan invoertariewe op verskeie suiwelprodukte.
Invoertariewe 18 jaar laas aangepasMnr. Philip Blanckenberg, Wes-Kaapse voorsitter van die MPO, het gesê verlede jaar is Poolse melk vir goedkoper in Suid-Afrika geland as wat melk plaaslike geproduseer kan word – “dit is storting”. Suiwelinvoertariewe is sowat 18 jaar gelede laaste aangepas, en die bedryf is bang om die saak aan te roer in die vrees dat dit dalk afgeskaf kan word, het hy gesê. “Dit maak die Suid-Afrikaanse melkprodusent as speler op die wêreldmark, heeltemal onmededingend.”
Plaaslike suiwelproduksie sou in 2015 Suid-Afrika selfvoorsienend kon hou, maar omdat amptelike data maande agter is en op moontlike melktekorte gedui het, is melk onnodig ingevoer. Die werklikheid was dat die Wes- en Oos-Kaap ’n uitstekende tydperk van melkproduksie beleef het.
Amerika en Nieu-Seeland – twee van die grootste wêreldspelers wat melkproduksie betref – het ook goeie produksies gehad en baie surplusmelk op wêreldmarkte geplaas. Dit het die wêreldoorskotte vergroot, met gepaardgaande lae produksiepryse vir produsente.
Byskrif: Mnre. Cornie Swart, voorsitter van Agri Wes-Kaap, Billy Morokolo, hoofdirekteur: Landbouverwerking en Bemarking by die Nasionale Departement van Landbou, Sven Thomson (stet), melkprodusent van Swellendam, me. Washiela Williams van die Departement van Landbou, en mnr. Philip Blanckenberg, Wes-Kaapse voorsitter van die MPO. Foto: Johan Coetsee