
Melkproduksie was in die eerste vyf maande van vanjaar marginaal laer as in dieselfde tyd verlede jaar, skryf dr. Koos Coetzee, ekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), in sy maandelikse verslag.
Die droogte in die Suid- en Oos-Kaap is een van die faktore wat groei belemmer. Altesame 26 486 ton suiwelprodukte is van Januarie tot April ingevoer. Dit is dubbel soveel as in die eerste vier maande van verlede jaar.
Gegrond hierop kan invoer vir 2017 na raming 12 000 ton meer wees as verlede jaar. Die land se totale melkvoorraad, oftewel die hoeveelheid plaaslik geproduseerde melk minus netto uitvoer, was in die eerste vier maande van vanjaar 5% hoër as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, hoofsaaklik weens groter invoer.
Die gemiddelde melk-tot-voerprysverhouding was in Junie vanjaar 1:8, vergeleke met Junie 2016 se 0:9.