Suid-Afrika se melkproduksie is onder druk weens onder meer weertoestande en tekorte wat ontstaan het, sê die Melkprodusente-organisasie.
Mnr. Dean Kleynhans, voorsitter, verwag wel dat pryse aan boere in die komende jaar kan styg. “Terselfdertyd verwag ek ook dat produksiekoste weer gaan styg, wat beteken dat melkboere hul boerderye steeds baie doeltreffend moet bestuur.”
Kleynhans sê die hittegolf wat die Wes-Kaap tans laat swaar trek, het ’n invloed op koeie se melkproduksie. “Dit is wel tradisioneel ’n warm tyd in dié deel van die land, so ons boerderymetodes is hierby aangepas.”
’n Uitdagende jaar
Kleynhans voorspel dat vanjaar weer ’n uitdagende jaar vir melkboere gaan wees. Hy sê weens die tekort het verwerkers in November en Desember verlede jaar melkprodukte ingevoer, en dit kan ’n invloed op die plaaslike mark hê.
“Ons sien reeds ’n redelike verhoging in produsentepryse, maar ook in produksiekoste, én mielies vir veevoer gaan ingevoer moet word. So ons kan beslis suiwelinflasie verwag,” aldus Kleynhans.
“Melkboere moet egter onthou dat die wêreld weer finansiële probleme ervaar, so ons is nie die enigstes wat swaar trek nie. Ons staan nie alleen nie, maar vorm deel van die totale stelsel,” verduidelik Kleynhans.
17 Januarie 2012