
Ondanks ‘n lang, stadige afskop was verlede jaar se totale melkproduksie volgens beraamde syfers uiteindelik 2,18% hoër as 2013 s’n. Dit is 4,44% hoër as in 2013.
Luidens ‘n verslag van die SA Melkverwerkersorganisasie (Sampro) was die gemiddelde daaglikse hoeveelheid onverwerkte melk wat melkkopers in Oktober 2014 gekoop het, die hoogste die afgelope sewe jaar.
Sampro gebruik ‘n indeks om neigings van aankope, oftewel produksie, te monitor. Volgens die indeks is 2008 die basisjaar en gelyk aan 100.
Vir die gemiddelde daaglikse verkope per maand is die basismaand Januarie 2008. In Oktober verlede jaar was die gemiddelde daaglikse aankope volgens die indeks 128,05.
Melkboere het in 2013 gesê hul winsgewendheid was onder druk nadat plaashekpryse vir melk gedaal het en voerkoste gestyg het.
Melkkopers het pryse laat in 2013 en vroeg in 2014 verhoog, die mielieprys het gedaal en daar was gunstige weersomstandighede. Produksie het vanaf Augustus verlede jaar stewig begin groei.
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, hoof uitvoerende beampte van Sampro, sê die syfers toon op lang termyn groei produksie teen ‘n bevredigende tempo (sien tabel). Op ‘n jaargrondslag was daar net in 2009 ‘n inkrimping.
Kraamwinkel sê die syfers toon ook dat produksie steeds seisoenaal betekenisvol verander, maar die laaste paar jaar is daar tog ‘n verandering in die winter.
Die laagste gemiddelde daaglikse aankope per maand was in Junie 2009. “Die winter se trôe het daarna nie weer so laag gedaal nie. Dit wys produksie pas by die markvraag aan en dat die waarde van produksie in die winter erken word,” sê Kraamwinkel.