’n Stadige groei in produksie en ’n sterk groei in die vraag na melk en melkprodukte kan tot ’n produsenteprys van R4 per liter lei, sê die Melkprodusente-organisasie (MPO).
Luidens ’n verklaring was die melkproduksie in Januarie marginaal laer as in die ooreenstemmende maand verlede jaar, terwyl die produsentepryse van lae vlakke af herstel het.
“Die MPO glo dat ’n gemiddelde produsenteprys van R4 per liter in die komende maande moontlik is. Terwyl ’n toename in produksie ’n mate van verligting vir boere kan beteken, sal dit moontlik nie tot ’n skerp toename in produksie in die komende herfs en winter lei nie,” lui die verklaring.
Die organisasie verwag nie dat produksie gedurende die herfs en winter die produksiesyfers van verlede jaar sal troef nie. “Daar is kommer oor die beskikbaarheid van mielies tot oestyd. ’n Stabiele groei in vraag sal verdere druk op pryse van suiwelvoorrade plaas.”
Uitvoere
Die totale invoer het verlede jaar met 23% toegeneem, terwyl uitvoer met 39% toegeneem het. Uitvoer het verlede jaar stabiele groei getoon. Dít sal na verwagting voortgaan. In Januarie is suiwelprodukte ekwivalent tot 15,7 miljoen liter melk ingevoer, terwyl 9,7 miljoen liter s’n uitgevoer is.
Die totale suiwelmark sal na verwagting met tussen 4% en 5% per jaar groei, met die vraag na waardetoevoegingsprodukte wat sal toeneem.
Internasionale produkpryse is in randterme laer as ’n jaar gelede, wat grootliks aan die verstewiging van die rand in Januarie toegeskryf kan word. Intussen het internasionale produsentepryse in Desember verlede jaar gedaal vergeleke met die pryse van Desember 2010, ook grootliks weens die sterker rand. Amerika se produsentepryse het in dié tyd wel ’n toename van 23% aangeteken.
Vooruitskatting
Verdere groei in uitvoer word vir die res van die jaar verwag met Europese toetredingsvoorraad wat op baie lae vlakke is. Internasionale hoër produksie verlede jaar het nie tot hoër voorraad gelei nie, aangesien uitvoer aansienlik toegeneem het.
Gedurende die eerste twee maande van vanjaar het produkpryse wêreldwyd gestyg. Terwyl wêreldwye finansiële ondersekerheid steeds voorkom, sal die sterk vraag in veral lande in Asië enige moontlike afnames in die vraag in die Eerste Wêreld oortref.
“Wêreldwye bly die verwagtinge op lang termyn positief, hoewel dit met ’n mate van afwaartse onsekerheid gepaardgaan.”
9 Maart 2012