Die Mededingingskommissie het sy saak teen die ander respondente in sy ondersoek na die melkbedryf teruggetrek. Luidens ’n verklaring het die kommissie sy saak teen Clover SA (Edms.) Bpk., Nestle SA (Edms.) Bpk. en Ladismith Cheese (Edms.) Bpk. teruggetrek.
Die kommissie het in 2006 met die ondersoek begin na onder meer prysvasstelling. Clover het in dié tyd om toegeeflikheid ten opsigte van sommige aanklagte aansoek gedoen.
Die Appélhof
Die kommissie se stap volg nadat die Appélhof in Bloemfontein in September verlede jaar ten gunste van Woodlands Dairy (Edms.) Bpk. en Milkwood Dairy (Edms.) Bpk. bevind het. Dié maatskappye het beswaar aangeteken teen die kommissie se ondersoek.
Die hof het bevind die kommissie se onderneming aan die begin van die ondersoek na die melkbedryf was onwettig, want dit het nie die aantygings teen elke onderneming gespesifiseer nie. Verder het die hof bevind die kommissie het ook nie ’n redelike vermoede gehad dat alle ondernemings in die bedryf by sulke gedrag betrokke was nie.
Die kommissie sê die dinamiek in die bedryf het intussen verander en hy sal voortgaan om die bedryf te monitor vir moontlike nie-mededingende optrede. Verder het die komissie ’n span saamgestel om vas te stel wat die huidige stand van mededinging aan die produksie- en verwerkingskant van die melkbedryf is.
20 April 2011