Nadat ’n vergadering met die polisie misluk het omdat die Minister van Polisie en verteenwoordigers van die polisie nie opgedaag het nie, stel die TLU SA ’n memorandum saam om aan die minister te oorhandig.
Mnr. Henk van de Graaf, assistent-hoofbestuurder van die TLU SA, sê hulle weet nie of daar enige nut sal wees daarin om nog ’n vergadering met mnr. Nathi Mthethwa, die Minister van Polisie, en genl.-maj. Nhlanhla Sibusiso Mkhwanazi, waarnemende kommissaris van polisie, te probeer reël nie.
Die uitnodiging aan Mthethwa en Mkhwanazi is sowat twee weke voor die vergadering op Dinsdag (13 Maart 2012) aan hulle gestuur. “En ons het spesifiek in die uitnodiging gevra dat as hulle dit nie self kan bywoon nie, senior beamptes in hul plek gestuur moet word,” sê Van de Graaf.
Memorandum
Afgevaardigdes wat wel die vergadering bygewoon het, het besluit dat ’n memorandum aan die minister oorhandig moet word. Dié memorandum sal fokus op wat boerderygemeenskappe van die polisie verwag en wat die gemeenskappe self bereid is om te doen om hul veiligheid te verseker.
“Die memorandum behoort in volgende week voltooi te wees, waarna dit per hand by die ministerie afgelewer sal word,” vertel Van De Graaf.
Mnr. Zweli Mnisi, woordvoerder vir die minister, sê hy het nie die vergadering bygewoon nie, want hy het nie so ’n uitnodiging ontvang nie.
Onderwyser
Intussen het ’n onderwyser en voormalige skoolhoof vandeesweek in die hof verskyn ná die moord op mnr. Dries du Toit, ’n boer van Ventersdorp. Luidens ’n berig in Beeld was die 47-jarige mnr. Joseph Lekene na bewering die baasbrein agter die rooftog en moord op Du Toit.
Du Toit, sy vrou, Lettie, en sy suster me. Elizabeth de Villiers is op 14 Januarie 2012 op die plaas Klipplaatfontein aangeval. Du Toit het gesterf weens die beserings wat hy opgedoen het, Lettie is erg met ’n ysterpyp aangerand en De Villiers is lig beseer.
Die koerant berig Lekene werk al 27 jaar by die departement van onderwys. Hy is in 2006 daaraan skuldig bevind dat hy gesteelde vee verkoop het. Hy word saam met mnre. Piet Mosenyegi, Fillip Mathibela, Frans Mokgosang en Frank Moilwa van die moord op Du Toit verdink.
Mosenyegi het glo sewe maande voor die aanval vir Du Toit begin werk. Lekene het vermoedelik by hom gehoor dat Du Toit vroeër een van sy plase vir miljoene verkoop het en dat ’n groot klomp geld in sy kluis by die huis is.
Die groep se borgtogverhoor duur voort.
Bron: Beeld
15 Maart 2012