Hier naby ons op Senekal, by Marquard, het bek-en-klouseer nou ook uitgebreek. Dit gons op WhatsApp soos die boere mekaar aanvat oor die gemors. Daar is die groep wat meen dat ons moet saamkom en beplan hoe ons dit gaan bekamp.
Dan is daar die klomp wat meen dat ons op ons plase moet bly en ons voertuie met F10 moet afspuit as ons enigsins van die plaas af beweeg en terugkeer. F10 gaan seker eersdaags net so gewild wees soos ivermektien gedurende die covid-19- pandemie. ’n Mens het egter baie vrae.
As jy nou jou bewegings bestuur, wat maak jy met jou plaaswerkers wat deesdae op die dorp bly en daagliks heen en weer gery word? Wat maak ons Sondae? Bly ons nou weg van die kerk af? Wat van as jy ’n siek dier kry? Hoe laat jy jou veearts, wat daagliks die hele distrik vol ry, op die plaas toe?