Met die lees van die artikel “SA boer mik ver met Bonsmaras” (LBW, 5-12 Januarie 2023) het ek gewonder of prof. Jan Bonsma ooit kon dink dat hierdie beesras ook die pad na Georgië sou vat. Eintlik moet ons die hoed lig vir mnr. Lambert Theron vir sy waagmoed om die hoek na Georgië uit te gooi.
Dan ook vir sy seun Ruhan en dié se gesin wat reeds met Bonsmaras op Sartichala boer. Vir Georgië is die Therons verseker ’n aanwins. Laat ons nooit vergeet van ons boere wat ’n merk of twee in die vreemde maak nie!
Dit sal interessant wees om van meer van hierdie boere in Landbouweekblad te verneem. Dié insiggewende artikel kan regtig gebruik word as voorligting en gids vir iemand wat voornemens is om die pad te vat.