Ek was lank in die hoenderbedryf werksaam en weet dus dat dit ’n baie dinamiese bedryf is, met sy eiesoortige probleme wat veroorsaak word deur invoer, strawwe mededinging tussen verskillende produsente, probleme ten opsigte van geskikte en deurlopende watervoorsiening en deurlopende kragvoorsiening, om maar ’n paar te noem.
Hierdie faktore is egter ’n gegewe, en dus moet daar gekyk word na maniere om sommige van hierdie probleme te oorbrug en winsgewender te word.
As uit ’n verbruikersoogpunt na hoenderprodukte gekyk word, is daar ’n paar punte wat vir die klant uitstaan, naamlik gehalte, aanbieding, eenvormigheid, waarde vir geld, bekostigbaarheid en hoeveel pakke nodig is om sy of haar gesin te voed.