Heeltydse beurtkrag is nou ’n werklikheid. Die topbestuur van Eskom, waaronder mnre. Mpho Makwana, voorsitter van die direksie, André de Ruyter, uitvoerende hoof, Jan Oberholzer, bedryfshoof, en Thomas Conradie, hoof van opwekking, het in ’n volledige uiteensetting van die stand van sake by Eskom aangekondig dat heeltydse beurtkrag vir minstens twee jaar verwag moet word.
Die onderliggende boodskap is duidelik: Daar is geen kitsoplossing vir energievoorsiening in Suid-Afrika nie. Dit neem nie weg dat alles wat dadelik gedoen kan word, dadelik gedoen móét word nie.
Met ander woorde korrupsie, die lewering van swak steenkool en werknemers wat nie hulle plig doen nie, moet die nodige aandag kry. Dit is alles sake wat binne Eskom se beheer is.