Suid-Afrika se energiekrisis het ontaard in ’n ekonomiese ramp. Suid-Afrikaners is nou vir oorlewing afhanklik van elektrisiteit wat nie beskikbaar is nie, en vloeibare brandstof wat nie bekostigbaar is nie. Te midde van fase 6-beurtkrag het die prys van petrol en diesel in die afgelope tyd skerp gestyg tot meer as R25 per liter.
Boonop word van huishoudings en ondernemings, wat toenemend op vloeibare brandstof vir hul energiebehoeftes aangewese is, verwag om brandstofheffings te betaal wat uitsluitlik vir padgebruikers ingestel is.
Hoewel ’n land se ekonomie gewoonlik in geldwaarde gemeet word, is energieverbruik ’n akkurater weergawe daarvan. Geldeenhede se wisselende waarde maak dit moeilik om presies vas te stel hoeveel ekonomiese aktiwiteit deur ’n sekere hoeveelheid dollar of rand verteenwoordig word.