Geagte mnr. Chris Burgess, Ek is ’n ywerige leser van Landbouweekblad en dit is vir my en my werknemers eintlik soos ’n tweede Bybel, veral waar dit gaan oor veldbewaring en kuddebestuur.
Ek het u redakteursbrief (“Uiteindelik!”) in die uitgawe van 17 Februarie baie interessant gevind, soos ál u skrywes. U stelling dat mnr. Eddie Prinsloo se werkers die eerste swart boere was wat vir die Responsible Wool Standard (RWS) geakkrediteer is, is egter nie korrek nie.
Ek en twee medeboere, mnr. Harold Bezuidenhout en Jan Bergh, boer al sedert 1 November 2017 op vyf plase (altesaam 20 000 ha) wat aan die staat behoort op die plato van Beaufort-Wes.