Dit is Saterdag 10 Desember 2022 en elke boer in die omgewing van Askham en Noenieput begeer om vandag te kan rus. Hulle het pas hul tweede week van wegholveldbrande agter die rug waartydens hulle by tye in verstikkende rook vlamme van tot 4 m hoog moes trotseer.
Ten spyte van die verliese en trauma wat deur die brande veroorsaak is, het dit ook ’n manier geword waarop boere en hul werkers aan mekaar bewys het dat hulle omgee vir die Kalahari, die diere en vir mekaar.
Niemand het die situasie onbetrokke sit en bekyk nie. lnteendeel, boere het fisiek met hul lyf, asook emosioneel en finansieel agteroor gebuig vir mekaar. Ek voel diep dankbaar oor die liefde en omgee van hierdie gemeenskap vir mekaar.