Gawie Richter se brief “Wat het van hierdie boere geword?” (LBW, 5-12 Januarie 2023) het betrekking. Dit handel oor die mislukking(s) van boerderye in die voormalige tuislande. Dit hou egter nie daar op nie. Kom ons kyk na boerderye wat elders in Suid-Afrika gevestig is om transformasie en regstellende aksie te bewerkstellig.
In Noordwes, by Hartbeesfontein, is ’n melkplaas wat van die eerstes was wat in 1998 aangekoop en aan die nuwe eienaar oorhandig is. Hierdie pragplaas is binne enkele jare tot op die grond afgebreek.
Die melkkudde is uitgeslag, karkasse van verwaarloosde diere het in die swembad beland, en die woonhuis is feitlik verwoes. Die plaas lê steeds dormant. Die volgende voorbeeld is die Estina-melkplaas, ’n projek van honderde miljoene rande wat gevestig is om swart boere te bevoordeel.