Daar is weekliks nuusberigte oor die swak toestand van Suid-Afrika se paaie. Ek wil spesifiek oor die situasie rakende grondpaaie skryf. Kom ons gaan kyk hoe dinge gewerk het toe ek nog geboer het – voor 1994.
Elke landdrosdistrik het ’n afdelingsraad gehad. Dié raad is verkies deur die grondeienaars in die distrik. Elke distrik is verdeel in wyke wat deur ’n raadslid verteenwoordig is. ’n Sekretaris en ’n tikster het die papierwerk behartig. Daar was ook ’n padinspekteur.
Sy werk was om alle paaie te inspekteer en aanbevelings te maak aan die raad, wat maandeliks vergader het om die nodige besluite te neem oor sake soos die skraap en herbou van paaie, die lê van afvoerpype en die span van draadheinings.