Die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) het onlangs sy 2021-jaarverslag met groot fanfare bekend gemaak. Daar was ’n reusestyging van 27,5% in sy bates tot meer as R2 biljoen!
Pensioentrekkers kan dus ’n groot styging in hul pensioen verwag. Of hoe? Kyk ’n mens mooi na die verslag, lyk dinge egter nie so rooskleurig nie. Onlangs nog het die bates op R1,8 biljoen gestaan. Om die een of ander rede wat net die GEPF kan verklaar, het dit toe tot R1,6 biljoen gedaal.
Hoekom daal bates die een jaar met R200 miljard, net om die volgende jaar met R400 miljard te styg ? Wat meer kommer wek, is dat die inkomste uit beleggings, ten spyte van die reusestyging in die bates, die afgelope jaar met 10% van R89 miljard tot R79 miljard gedaal het.