Die Land Bank word uit verskeie oorde aangeval en daarvan beskuldig dat hy geen simpatie met boere het wat in die skuld is by hom nie. ’n Mens kan nie ontken dat die Land Bank ook in diep moeilikheid verkeer wat sy finansiële posisie betref nie.
Hierdie ongesonde toestand is deels te wyte aan swak bestuur en die onoordeelkundige toestaan van lenings. Die probleme van ’n sekere boer (“Noord-Kaapse boer wat R80 miljoen skuld, het vrae oor wetgewing”, LBW, 25 Augustus), trek tans wyd aandag.
Die regspan van die boer en van die Land Bank is besig met ingewikkelde tegniese voorleggings om hul saak te versterk tot voordeel van die onderskeie partye. In eenvoudige taal kom dit daarop neer dat die skuldenaar dit absurd vind dat daar op sy bates beslag gelê moet word as hierdie bates meer is as sy skuld.