Die Suid-Afrikaanse landboubedryf het 2021 op ’n hoopvolle noot afgesluit. Die 2020-’21-seisoen het ’n oorvloedige oes van veld- en tuinbougewasse voortgebring, wat gelei het tot verhoogde uitvoer uit ’n produksieperspektief.
Beramings deur ontleders dui daarop dat Suid-Afrika in 2021 rekorduitvoer van sowat R173 miljard kon bereik het, wat 2020 se landbou-uitvoer van sowat R160 miljard en selfs die rekorduitvoer van 2018, wat R167 miljard was, sal oortref.
Die uitvoer en markte is gediversifiseer, wat spreek van die breë prestasie van landboubedrywe en uitvoermarkte. Hoewel Suid-Afrika ’n probleem het met hoër werkloosheid in baie bedrywe, is die landbou een van die bedrywe wat help met werkgeleenthede.