Ons is almal bewus van die moontlikheid dat die vrugte-inmaakfabriek op Ashton, wat onder meer Koo-produkte vervaardig, om finansiële redes moet sluit. Dit is ’n hartseerstorie en almal bid dat ’n oplossing gevind sal word. Duisende werkgeleenthede by die fabriek en op plase in die omgewing is in die gedrang.
Besighede op Ashton en omliggende dorpe se voortbestaan hang af van ’n noodsaaklike oplossing om die fabriek te red. Die Langeberg Koöperasie het sy ontstaan in die 1940’s te danke aan ’n familielid van my: Oom Lang Sarel Conradie en sy tydgenote.
Oom Sarel was ’n legende in sy tyd. Ek het sentimentele herinneringe aan die skoolvakansies toe ons skoolseuns vrugtekissies by die koöperasie gemaak het vir ’n sakgeldjie. ’n Hele 8 sjielings en ’n pennie (minder as 81 sent) was ons daaglikse soldy. Goeie geld!