Skielik breek die winter aan. Die aankondiging van ’n nuwe seisoen – nie net in die natuur nie, maar ook in ons lewe. Onlangs het die grendeltydperk verstryk. Sedert Suid-Afrika se inperkingstyd meer as twee jaar gelede aangekondig is, het daar soveel dinge gebeur.
Soms voel dit of ’n mens nie wil teruggaan na daardie tyd en emosies nie. Tog is dit ’n groot gat in ons lewe waar alles gaan stilstaan het. Kenners sê niemand van ons is regtig gemaak vir verandering nie, al is dit die verloop van die lewe.
Ons het nie geweet hoe ons hierdie tyd gaan oorleef nie. En hier is dit nou verby. Soos ’n fliek waarvan die intriges bekend is, die akteurs ook, en ons gretig wag vir die storie om verder te ontvou. Een toneel ná die ander. Hoe die storielyn ontknoop. Hoe dit lewens, óns lewens, verder gaan raak.