Ek is stomgeslaan deur die gebrek aan hoofstroommediadekking oor die onlangse onluste by Kirkwood en omgewing. Ek het wel foto’s en video’s van hierdie chaos op sosiale media gesien, en die gebrek aan polisie-optrede skree ten hemele. (Sien ook die berig “Waar was die polisie?” (LBW, 12 Mei 2022.)
Dit is duidelik dat die betogers en onlusmakers baie beter voorberei en georganiseerd was as die polisie. ’n Mens kan nie glo dat hierdie lamsakkigheid in polisiegeledere weer duidelik is nadat presies dieselfde gebeur het tydens verlede Julie se onluste in KwaZulu-Natal.
Is dit weer ’n geval dat die erns van die geweld aanvanklik onderskat is en toe optrede nodig was, kon die polisie nie die mas opkom nie? Ek is onlangs heftig deur briefskrywers in die media aangeval omdat ek die standpunt huldig dat geweld, soos by Kirkwood, slegs met geweld deur die polisie onder beheer gebring kan word.