Die afgelope jare was daar droogte in die Karoo. Ons stedelinge is nie altyd bewus van wat presies in die kosmandjies van Suid-Afrika aangaan nie, maar ons Karoo-kinders vergeet nooit ons geboorteplek nie.
Die afgelope maande het ons die nuus gevolg oor die knellende droogte, die ellende van diere wat vrek, en boere wat moedeloos toekyk wanneer kos, voer en geld opraak. En heel onlangs die sprinkaanplaag wat ’n spoor van verwoesting nalaat.
Ons voel hoe dit rafels torring aan ons hart, en huil saam. Gisteroggend kry ons die eerste foto’s van reën in die Karoo. Paaie oorstroom en slote loop. Riviere kom af. Elkeen juig. Opgewonde, maar ook met ’n tikkie hartseer wys my man my hoe sy geboortedorp lyk.