Pres. Cyril Ramaphosa stel dikwels kommissies van ondersoek aan om bepaalde aangeleenthede te ondersoek en aan hom verslag te doen. Onlangse voorbeelde is die Zondo-kommissie wat bewerings van staatskaping ondersoek het, asook die Mpati-kommissie wat ondersoek ingestel het na beweerde wanpraktyke wat betref die belegging van die Staatsdienspensioenfonds.
Albei kommissies het hul opdrag uitgevoer en verslag gedoen. Sommige bevindings was verdoemend. Tans word druk deur verskeie instellings uitgeoefen, veral via die media, om die aanbevelings van die Zondo-kommissie uit te voer.
Die Mpati-kommissie het verskeie ongerymdhede blootgelê en meer as 300 aanbevelings gemaak. Sommiges sal moontlike strafregtelike vervolging en die terugkry van eiendom tot gevolg hê.