Die hofsaak nadat mnr. Derek Mathews en sy familie beroof is, asook die onlangse berig daaroor (“Mathews-aanvallers vry, al beken hulle skuld”, LBW, 14 April) verdien kommentaar.
Om mee te begin, hierdie saak is deur die nasionale vervolgingsgesag met minagting hanteer asof die voorval bloot “piepie in die straat” was. Ek het die verloop van gebeure gevolg sedert die rooftog en die inhegtenisneming van die verdagtes, en dit is opmerklik hoe hoopvol Mathews deurentyd was.
Hy beskryf die gebeure steeds bloot as huisroof, dog volgens die polisie se statistieke is ek seker dat dit onder plaasaanvalle aangeteken is. Nou word Mathews egter as die leuenaar afgemaak en afgekraak, en hy word selfs daarvan beskuldig dat sy feite nie reg is nie.