Die nuwe jaar het aangebreek. Die vraag wat elkeen moet beantwoord, is waarop die klem in 2022 gaan wees. TLU SA doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om vanjaar daarop te konsentreer om oplossings deur te voer en nie energie te verspil om deurlopend mislukkings te probeer bestuur nie.
Suid-Afrika is vasgevang in die gevolge van ’n beleidsomgewing wat oor 27 jaar net afbrekend was en geleenthede vir mense verskraal en selfs vernietig het.
Van die probleme wat ’n werklikheid is, sluit in: Steeds stygende werkloosheid, wat onvolhoubaar is. ’n Gebrek aan ekonomiese groei, wat nog probleme veroorsaak. Maatskaplike toelaes aan 27,8 miljoen inwoners, terwyl 6 miljoen die belastingkas moet vul, is rampspoedig.