Die veiligheidsnet wat veronderstel was om die verdere uitbreking van bek-en-klouseer te voorkom, is klaarblyklik vol gate. Dit kan egter reggestel word deur bestaande maatreëls streng toe te pas.
Die jongste uitbreking van dié siekte in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat kan waarskynlik toegeskryf word aan die onwettige vervoer van besmette diere vanuit oostelike gebiede in Suid-Afrika waar maatreëls en die nodige sone-omheinings nie in orde is nie.
Die onmiddellike gevolg hiervan was dat China ’n verbod geplaas het op die invoer van diere met gesplete kloue en hul produkte, soos wol, vanuit Suid-Afrika. Suid-Afrika voer sowat 80% van sy wol na China uit, ter waarde van sowat R4,8 miljard.