Oudpres. Jacob Zuma se misbruik van die sogenoemde Stalingrad-strategie is besig om Suid-Afrika se kosbare regstelsel in ’n sirkus te omskep. Een saak teen hom sloer al 13 jaar lank.
Met vertragings in howe klop ons selfs die Amerikaners! Onthou u nog hoe ons vir die Amerikaanse regstelsel gelag het toe die terdoodveroordeelde Caryl Chessman 12 jaar lank die voltrekking van die doodstraf met appèlle vertraag het? En nou, Suid-Afrika?
Oor die Stalingrad-strategie het regter Edwin Cameron by geleentheid gesê dat ’n persoon wat valslik aangekla word, geregtig is om enige verdediging te gebruik om sy onskuld te verseker.