Landbouweekblad se onlangse beriggewing oor hoe swak paaie ’n struikelblok vir die landbou se groei en vir voedselsekerheid is, het betrekking. Ná 1994 het ek gedink die ANC gaan vir ’n paar jaar sy begroting vir sekere dienste aanpas om geld na die armes (swart mense) te kanaliseer.
Dit was aanvaarbaar. Nou, ná 28 jaar, is Suid-Afrika se teerpaaie ’n gemors en die instandhouding van ons sekondêre grondpaaie is basies beperk tot die skraap van ’n pad so dan en wan. Die situasie waarin ons ons nou bevind, is dat ál die grondpaaie in die land basies oorgebou sal moet word, want die gruis is afgeskraap.
Kan iemand vir ons sê wat die regering se beplanning in hierdie verband is? Ons moet reeds self polisieman en brandweerman speel. Moet ons nou maar self begin padingenieur ook speel?