Water is nie net noodsaaklik vir lewe nie, maar ook regstreeks verantwoordelik vir ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling. Suid-Afrika lê ongelukkig in ’n droogtegordel met gemiddelde jaarlikse reënval van net 460 mm, wat die land die 30ste droogste land ter wêreld maak.
Van die oostelike dele van die land neem reënval weswaarts af tot op die vlak waar 21% van die land minder as 200 mm per jaar kry. Hoë temperature veroorsaak ook dat die potensiale verdampingsverliese die reënval ruim oorskry (1 100 mm tot 3 000 mm per jaar).
Al wat kan help, is goeie bestuur. Suid-Afrika se watersituasie is benard. Dit is waarom kundiges die regering al dekades lank waarsku dat die land teen 2025 te min water gaan hê om in al die behoeftes te voorsien.