Die verslag van die Zondo-kommissie het verbasend vinnig verskyn en bevat, soos almal verwag het, dinamiet. Regter Raymond Zondo het ’n reusetaak werklik voortreflik afgehandel. Nou wag almal op die uitvoering van die weldeurdagte aanbevelings.
Die Burger stel dit in sy hoofartikel op 6 Januarie 2021 treffend soos volg: “Die eindtoets lê in die suksesvolle vervolging en straf van die buiters . . . Met die kommissie se mandaat afgehandel, skuif die plig na die nasionale vervolgingsgesag.”
Natuurlik is die koerant reg, maar leef ons nie in ’n droomwêreld nie as ons verwag dat daar nou vervolgings ingestel sal word? Ons moet onthou dat die “buiters” ontplooide kaders is wat deur die kaderkomitee van die ANC in hul poste geplaas is.