
Die Uyse is op Sondag 3 Julie deur die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdaad op aanklagte van mensehandel in hegtenis geneem. Hulle word saam met twee ander verdagtes, mnre. Carlos Bernardo Guambe (34) en Gabriel Bernardo Guambe (32), aangekla van die mensehandel van 39 mense – 7 vroue, 9 kinders jonger as vyf en 23 mans ouer as 18. Die Guambes is op 24 Junie in hegtenis geneem toe die slagoffers van ’n plaas in Dullstroom gered is.
Dit blyk dat die slagoffers van Mosambiek af kom en per minibus na Suid-Afrika gebring is met die belofte van beter werksgeleenthede. Die slagoffers is tot by die grens gebring waarna hulle deur ’n rivier beweeg het om toegang tot Suid-Afrika te verkry. Daarna is hulle met ’n minibus na Lydenburg geneem.
Albertus en een van die Guambes het glo dan die bestuurder van die minibus betaal om die slagoffers na die plaas te neem.
Die Guambe-broers is op Vrydag 22 Julie in dieselfde hof skuldig bevind aan die oortreding van immigrasiewetgewing en elk tot drie maande tronkstraf of ’n boete van R5 000 gevonnis.
Die saak teen die Uyse is tot 22 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Die Guambe-broers verskyn dan ook in die hof.