
Mnre. Cornelis Johannes Uys (60), Cornelis Johannes Albertus Uys (23), Carlos Bernardo Guambe (34) en Gabriel Bernardo Guambe (32) word van die mensehandel van Mosambiekse burgers beskuldig.
Die twee Guambe-broers, wat ook aangekla word vir die oortreding van immigrasiewetgewing, het aangedui dat hulle hul borgtogaansoek laat vaar. Hul saak is tot 18 Julie uitgestel.
Die Uyse se regspan het volgens Netwerk24 aangevoer dat hulle meer tyd met hul kliënte nodig het aangesien daar bykomende klagte teen hulle gebring is sedert hulle op 3 Julie in hegtenis geneem is. Hulle verskyn vandag weer in die hof.
Die verdagtes het volgens die staat Mosambiekse burgers per minibus na Suid-Afrika gebring met die belofte van beter werksgeleenthede. Die slagoffers is tot by die grens gebring waarna hulle deur ’n rivier beweeg het om toegang tot Suid-Afrika te verkry. Daarna is hulle met ’n minibus na Lydenburg geneem. Albertus en een van die Guambes het na bewering dan die bestuurder van die minibus betaal om die slagoffers na die plaas te neem.