Die tugverhoor van dr. André Mentz, ‘n veekundige, is afgehandel nadat hy skuldig gepleit het op die aanklagte teen hom.
Die SA Raad vir Natuurwetenskaplike Beroepe (Sarnap) wat dr. André Mentz, bekende veekundige, dissiplinêr aangekla het oor sy omstrede boek Beesboerdery en Veekunde – ’n holistiese benadering, sê Mentz het skuldig gepleit op die aanklagte teen hom.
Die raad sê die dissiplinêre verhoor is nou in ’n skikkingsooreenkoms afgehandel. “Dr. Mentz het onvoorwaardelik sy verskoning aangebied en verklaar dat dit nie sy bedoeling was om enige mede-natuurwetenskaplike te beledig nie en dat dit ook nie sy bedoeling was om die professie in oneer te bring nie. Die partye het ooreenkom om gesamentlik die boek (ook die Engelse weergawe) te hersien en in ‘n aanvaarbare vorm te verwerk sou dr. Mentz die boek wou herpubliseer,” lui die verklaring.
Die partye het verder toegestem dat die ooreenkoms ‘n bevinding van die tribunaal gemaak mag word. Die partye het ook ooreengekom dat die skikkingsbesonderhede deur die Raad gepubliseer mag word en dat die aangeleentheid nie verder deur dr. Mentz in die openbare media opgeneem, gepubliseer of hanteer mag word sonder die Raad se skriftelike toestemming nie.
“Die Raad beskou hierdie aangeleentheid nou as afgehandel en sal geen verdere verklarings uitreik in die verband nie,” aldus die verklaring.
17 Oktober 2011