“Meulens word méér geraak deur langdurige beurtkrag as die meeste ander bedrywe omdat ons 24 uur van die dag en sewe dae van die week moet produseer,” het mnr. Attie van den Berg, ’n direkteur van Blinkwater-meule in Mpumalanga, aan Landbouweekblad gesê.
Met produksie wat volstoom snags voortgaan, gebeur dit soms dat meulens tydens fase 6-beurtkrag vir tot agt uur nie krag van Eskom ontvang nie. Dit is al ontwrigtend genoeg, maar daar is nóg oponthoude.
’n Meule kan nie tydens ’n produksiesiklus na ’n ander kragbron oorskakel nie, het Van den Berg gesê. “Dus moet die fabriek vir ’n halfuur voor en ná elke beurtkragskedule afgesit word om die halfverwerkte produk uit die pype te kry.”