
Landbouweekblad het ondersoek gaan instel ná berigte dat party meulenaars glo op Suid-Afrikaanse wit mielies aandring omdat die Mexikaanse produk minderwaardig sou wees.
Onder meer is gesê dat die Mexikaanse mielies effens grys, pleks van roomkleurig, soos die plaaslike mielies vertoon.
Dit is algemeen bekend dat mielies in Suid-Afrika van die hoogste gehalte is, onder meer omdat dit danksy die klimaat op die land droog word, terwyl dit in Amerika en Mexiko, die wêreld se twee ander witmielie-produserende lande, nat gestroop en daarna gedroog moet word.
Droogte op ongekende vlakkeDroogte het die afgelope twee tot drie jaar ongekende vlakke bereik in die westelike dele van die somersaaigebied, waar die grootste deel van die witmielie-oes tradisioneel verbou word. Die gevolg is een van die kleinste witmielie-oeste in jare – net 3,25 miljoen ton – terwyl die binnelandse verbruik saam met die nodige uitvoere na buurlande nader aan 5 miljoen ton beloop.
Dit word beraam dat die witmielie-invoersyfer as gevolg hiervan vir die heersende bemarkingsjaar, tot einde April 2017, altesaam 950 000 ton kan haal. Hiervan was teen middel November reeds amper 517 000 ton deur die hawens, waarvan die oorgrote meerderheid vanaf Mexiko.
Die SA Graanlaboratorium ontleed monsters uit die ruim van elke invoer-skip wat hierdie mielies vervoer, as deel van ’n voortgesette diens aan die bedryf in sy geheel. Dié resultate, wat op die graanlaboratorium se webtuiste beskikbaar is, toon dat Mexikaanse wit mielies, wat maalgehalte betref, nie vir plaaslike mielies hoef terug te staan nie.
Vergelele met SA mieliesDie Mexiko-mielies wat tot dusver sedert Mei vanjaar (die begin van die bemarkingsjaar) ingevoer is, se gemiddelde uitmaal-persentasie (die totale hoeveelheid meel nadat die pitte gemaal is) was 77,3%. Vergeleke hiermee was die Suid-Afrikaanse witmielie-oes van 2014/’15 se gemiddelde uitmaalpersentasie 78,7%.
Voorts was die Mexiko-mielies se witheid-indekse 19,3 (gesif) en 28,4 (ongesif), teenoor die Suid-Afrikaanse produk se 14,9 (gesif) en 22,9 (ongesif).
Tabel: Ander maalgehalte-maatstawwe vergelyk as volg:
Mnr. Boikanyo Mokgatle, uitvoerende direkteur van die SA Meulenaarskamer, het by navraag aan Landbouweekblad gesê dié bedryfsliggaam het nog nie klagtes oor ingevoerde mielies vanaf lede ontvang nie. As hulle wel sou, sal hy dadelik die SA Graanlaboratorium hieroor raadpleeg.