
Landbou-uitvoer na Mexiko het binne een jaar met 17 655% gegroei, danksy dié land se verhoogde aptyt vir Suid-Afrikaanse mielies, houtpulp en groenteprodukte.
Dít is volgens die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) en Departement van Landbou, Bosbou en Vissery se Direktoraat vir Internasionale Handel se jongste handelsverslag.
Buiten Mexiko het Suid-Korea en China ook in 2011 meer Suid-Afrikaanse produkte ingevoer. Suid-Korea het 93% meer produkte ingevoer. Dié groei is hoofsaaklik deur spesialis-papier, vis en vrugtesap aangevuur. Die Chinese mark het 42% meer produkte, veral pomelo’s, houtpulp en wyndruiwe, ingevoer.
50% meer vleis ingevoer
Suid-Afrika het verlede jaar 63% meer graan en 50% meer vleis as in 2010 ingevoer. Dít is die landbou-, bosbou- en visseryprodukte wat die grootste verhoging van invoere die afgelope jaar beleef het.
Luidens die verslag is vrugte en neute die land se grootste uitvoer-subsektor en Holland is die land waarna Suid-Afrika die meeste produkte uitvoer. Die top vyf produkte, wat Suid-Afrika in 2011 na Holland uitgevoer het, was druiwe, lemoene, wyndruiwe, pere en pomelo’s.
Brittanje en Zimbabwe is onderskeidelik die tweede en derde grootste invoerders van Suid-Afrikaanse landbou-produkte.
Suid-Afrika se suiker-uitvoer het in 2010 en 2011 met onderskeidelik 38% en 16% gedaal, terwyl graan-uitvoere met 153% toegeneem het in 2011.
Wat invoere aanbetref, is papier die grootste subsektor van invoere binne die landbou, bosbou en vissery-sektor. Verder is die meerderheid van invoere van Argentinië afkomstig.