
Voerpryse móét afkom en vleispryse sal waarskynlik in die volgende 12 maande styg om markewewig te herstel, sê dr. Ferdi Meyer, hoof van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP).
Meyer het vanoggend gepraat op die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jaarlikse kongres in die Rawdons-hotel in die Natalse Middeland naby Pietermaritzburg.
Hy sê Amerika het vir die derde agtereenvolgende jaar ’n slegte oes opgelewer. ‘‘Vanjaar het die land 100 miljoen ton mielies verloor weens die droogte en die mark is reeds besig om daarop te reageer (deur meer te plant). Daarom meen ons dat hoë voerpryse (afgelei van hoë mieliepryse as gevolg van die droogte) sal moet daal. Dít gaan waarskynlik met ’n slag afkom.’’
Meyer verwag dat dié daling binne die volgende 12 tot 18 maande sal voorkom.
Speenkalfprys
Hy verwag ook ’n speenkalfprys van R20/kg teen volgende jaar. Dié vooruitskatting is gegrond op die aanname dat marktoestande die voorspelbare neigings volg.
Karkas- en speenkalfpryse sal ook toeneem, mits die huidige marktoestande nie te dramaties verander nie, sê Meyer.
Om die waarheid te sê, het karkaspryse plaaslik vinniger begin styg as wat Meyer verwag het. ‘‘Dít het waarskynlik gebeur, omdat minder beeste die afgelope paar maande geslag is en invoer van ons buurlande af gedaal het."
Wat speenkalwers betref, betaal voerkrale reeds meer vir ’n speenkalf en op kleinhandelvlak het dié pryse ook gestyg.
Hoenderbedryf
Hoë voerpryse en lae kleinhandelpryse het die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf die afgelope paar maande ernstig onder druk geplaas, sê Meyer.
Internasionale, hoë voerpryse het egter reeds só ernstig druk uitgeoefen dat Brasilië die afgelope maand minder hoender na Suid-Afrika uitgevoer het, sê Meyer. Hy het na die nuutste invoersyfers van dié land verwys.
Dit beteken egter nie dat invoer op lang termyn sal daal nie. Meyer verwag eerder dat dié soort invoer sal styg.