Die aanvanklike aanpassings aan die mielie-differensiaal is verlaag ná die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) inligting van silo’s bygewerk het. Luidens ’n kennisgewing van die JSE is die aanpassing nou ’n gemiddelde toename van R28 per ton, waar dit vroeër R36 per ton was.
Mnr. Chris Sturgess, die algemene bestuurder van kommoditeitsafleidings by die JSE, sê die gemiddelde verhoging aan die differensiaal is nou 18,67%, en die gemiddelde bedrag per ton staan nou op R178. “Daar is wel silo’s waar die bedrag met 45% verhoog is en ander waar dit met tot 18% verlaag is.”
Deelname
Volgens die kennisgewing is die veranderinge aangebring ná inligting van silo-eienaars oor hul gebruik van spoor- en padvervoer bygewerk is. Die silo’s wat die meeste geraak is, is dié wat inligting verskaf het oor meer gereelde spoorvervoer as wat voorheen verskaf is. ’n Voorbeeld daarvan is GWK se Modderrivier- en Barkly-Wes-silo wat nie inligting in die eerste ronde opnames verskaf het nie.
Openlike bespreking
Sturgess sê hulle weet dat een deel van die sektor die differensiaal sleg ervaar, maar hulle kan nie die model waarvolgens hulle werk, verander sonder dat alle betrokke partye so ’n verandering steun nie.
“Ons is slegs ’n handelsplatvorm wat prysrisiko-bestuursinstrumente verskaf. As álle belanghebbendes so ’n verandering ondersteun, sal ons graag daarna kyk,” aldus Sturgess.
Hy sê in 2009 is al oor die kwessie gedebatteer en hulle is nie van plan om die differensiaal vir ewig toe te pas nie, maar alle belanghebbendes moet veranderinge steun.
Hou Landbouweekblad van 6 Mei 2011 dop vir meer oor die saak.
28 April 2011