Die aanpassing vir die mielie-vervoerdifferensiaal, wat verlede week bekend gemaak is, is tans onder die loep en ’n aankondiging oor moontlike veranderings behoort voor die einde van die week gemaak te word, sê mnr. Chris Sturgess, algemene bestuurder van kommoditeitsafleidings van die Johannesburgse Effektebeurs (JSE).
Dit volg nadat Graan SA en die JSE Vrydag (15 April) vergader het om die verhoging van die differensiaal en die groot ontevredenheid daar rondom te bespreek.
Die differensiaal vir 183 silo’s is met gemiddeld 28% verhoog, terwyl die differensiaal vir individuele boere met tussen -19% (-R21 per ton) en 68% (R161 per ton) aangepas is.
Realisme
Mnr. Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte vir Graan SA, sê op die vergadering het hulle verskeie sake onder die JSE se aandag gebring en die JSE het onderneem om die differensiaal te herbereken.
“Ek dink wel ’n mens moet realisties daaroor wees, vervoerkoste het baie gestyg, en jy kan nie ’n reuse-verhoging gegrond op werklike koste bloot halveer nie,” merk De Villiers op.
Waarsku die mark
De Villiers meen wel dat die JSE die mark van die beplande verhoging in kennis moes stel, sodat die nodige voorbereidings gedoen kon word en produsente betyds gewaarsku kon word. “Ons het gevra of die JSE nie ’n behoorlike waarskuwing moes gegee het nie, en waar was die konsultasieproses met die mark?”
Sturgess sê hulle het die afgelope week weer na die differensiaal-aanpassings gekyk, en ’n aankondiging sal binnekort volg.
20 April 2011