Die verwagte mielie-oes vir dié seisoen sal 12,99% groter wees as dié van verlede seisoen, sê die Nasionale Oesskattingskomitee.
Volgens die jongste skatting kan die kommersiële mielie-oes vanjaar op 11,705 miljoen ton te staan kom, terwyl dit verlede jaar 10,360 miljoen ton was.
Die komitee sê na raming staan die mielie-aanplantings vir dié seisoen op 2,682 miljoen ha, wat 13,06% meer is as die 2,372 miljoen ha van verlede seisoen. Die produksieskatting vir wit mielies is 6,804 miljoen ton, wat 12,42% hoër is as die 6,052 miljoen ton van die vorige seisoen.
Die oppervlak onder wit mielies word op 1,632 miljoen ha geskat. Dit is ’n toename van 15,08% teenoor die 1,418 miljoen ha van die 2010/’11-plantseisoen.
Veranderinge
Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê hoewel ’n mens nie die komitee se syfers in twyfel kan trek nie, het weersomstandighede sedert die komitee se jongste opname verander.
“Die weerstoestande wat toe voorgekom het, is nie wat dit nou is nie. ’n Mens moet realisties wees dat weerstoestande ongunstig gedraai het en dit sal ’n groot invloed op dele van die land hê.”
Koring
Die produksieskatting vir koring is opwaarts aangepas tot 1,905 miljoen ton. Dit is 2,99% hoër as verlede jaar se 1,85 miljoen ton. Die oppervlakte beplant met koring is onverandered op 604 700 ha gelaat.
“Die toename in die verwagte produksie van koring kan hoofsaaklik toegeskryf word aan beter as verwagte opbrengste, sowel as dat lewerings deur boere, soos gemonitor deur SAGIS, hoër is as die geskatte oes,” lui die verslag.
Produksie in die Wes-Kaap is met 26 500 ton oftewel 4,08% aangepas. Die Vrystaat en Noord-Kaap se verwagte produksie is ook aangepas, met 11 250 ton oftewel 2,08% en 6 300 ton oftewel 2,29% onderskeidelik.
Ander gewasse
Die hersiene oppervlakskatting vir sonneblomsaad is 443 300 ha, wat 31,03% minder is as die 642 700 ha wat verlede jaar aangeplant is. Gevolglik is die verwagte oes ook afwaarts aangepas tot 540 820 ton, wat 37,11% laer is as verlede jaar se 860 000 ton.
Die skatting vir sojaboonaanplantings is wel opwaarts aangepas tot 472 000 ha. Dit verteenwoordig ’n toename van 12,92% teenoor verlede jaar se 418 000 ha. Die produksieskatting vir sojabone is 755 950 ton, wat 6,47% hoër as die vorige seisoen se 710 000 ton is.
29 Februarie 2012