
Die skatting van die kommersiële mielie-oes se grootte is met sowat 400 000 ton, oftewel 3,4%, afwaarts aangepas, sê die Oesskattingskomitee.
Luidens die jongste oesskatting is die verwagte skatting hoofsaaklik verlaag omdat die midseisoen-droogte gedurende Februarie en Maart talle boere raak.
Die produksieskatting vir wit mielies is 6,539 miljoen ton. Dit is 264 000 ton minder as die 6,804 miljoen ton van die vorige skatting. In die geval van geel mielies is die produksieskatting 4,766 miljoen ton, wat 135 300 ton minder is as die vorige skatting van 4,902 miljoen ton.
Die geskatte oppervlakte wat met mielies beplant is, is ten spyte van die laer oesverwagting met 0,63%, oftewel 17 000 ha, tot 2,699 miljoen ha verhoog. Die verwagte opbrengs is wel verlaag na 4,19 ton per hektaar, teenoor 4,36 ton per hektaar van die vorige skatting.
Mnr. Louw Steytler, voorsitter van Graan SA, sê die organisasie sal volgende week vergader om die situasie rondom die droogte en oeste te bespreek. Hulle sal na verwagting ook met die Oesskattingskomitee vergader.
Ander gewasse
Die produksieskatting vir sonneblomsaad en sojabone is ook verlaag. Volgens die jongste skatting sal die sonneblomsaadoes 514 890 ton wees. Dit is 25 930 ton minder as die vorige skatting van 540 820 ton. Die oppervlakte wat met sonneblom beplant is, is ook opwaarts aangepas, van 443 300 ha tot 453 350 ha.
Die voorspelling van die verwagte sojaboon-oes het van 755 950 ton in die vorige skatting tot 720 500 ton afgeneem. Die opbrengs vir dié oes het van 1,60 ton per hektaar tot 1,53 ton per hektaar afgeneem.
Die produksieskattings vir die sorghum-, grondboon- en droëboon-oeste is ook verlaag. In die vorige skatting is ’n grondboon-oes van 67 165 ton verwag, maar dit is verlaag tot 62 240 ton.
Die sorghum-produksieskatting is van 145 150 ton tot 138 825 ton verlaag. Die komitee voorspel dat die droëboon-oes 47 315 ton sal wees, wat 6,36% laer as die vorige skatting van 50 530 ton is.
28 Maart 2012