
Die mielie-oes bars uit sy nate volgens die sesde produksieskatting vir somergewasse vir 2014, wat pas vrygestel is.
Die Oesskattingskomitee stel die grootte van die kommersiële mielie-oes op 14,017 miljoen ton, wat sowat 1% of 126 700 ton hoër is as die vorige skatting van 13,890 miljoen ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is onveranderd gelaat op 2,688 milj. ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,21 t/ha beloop. (Sien grafiek hieronder.)
Die oppervlak onder wit mielies is 1,551 miljoen ha en vir geel mielies is die oppervlak 1,137 miljoen ha.
Die produksieskatting van wit mielies is onveranderd gelaat op 7,697 miljoen ton. Die opbrengs van wit mielies is 4,96 t/ha. In die geval van geel mielies is die produksieskatting 6,320 miljoen ton, wat 2,1% of 126 700 ton meer is as die 6,193 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geel mielies is 5,56 t/ha.
Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 853 325 ton.
Die verwagte grondbone-oes is afwaarts aangepas met 7,75% of 6 950 ton tot 82 690 ton.
Die produksieskatting van sorghum het toegeneem met 9,6% of 22 480 ton tot 255 700 ton.
Die geskatte oppervlakte beplant met sorghum is 78 850 ha, en die verwagte opbrengs is 3,3 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting afwaarts aangepas met 3,4% tot 86 030 ton.
Grafiek: Totale mielieproduksie in SA soos op 30 Julie 2014. Bron: Oesskattingskomitee