Die Oesskattingskomitee het die afgelope seisoen se mielie-oes met gemiddeld 4,5% oorskat.
Dít in ’n jaar waartydens wisselvallige weer die voorspellers se taak erg belemmer het. Die finale syfers toon dat die oes uiteindelik 10,36 miljoen ton beloop het. Dit sluit werklike aangetekende lewerings van 9,6 miljoen ton tot Oktober vanjaar in.
Die 10,36 miljoen ton sluit ook verwagte verdere lewerings van 250 700 ton tot Februarie in, asook beraamde plaas-terughoudings van sowat 474 000 ton. Dit is heelwat laer as verlede jaar se terughoudings.
Finale oes
Die finale oes verteenwoordig ’n oorskatting van 2% (248 400 ton) vanaf die komitee se laaste skatting in September. Die syfer weerspieël ook ’n oorskatting van 5,8% in die kritieke vyfde skatting in Junie, die maand waarin die meeste mielies verby die kritieke groeifase is en die oes dus “gemaak” behoort te wees.
Die komitee se oorskatting is nie buitengewoon nie en val redelik binne die aanvaarde wêreldnorm van ’n 5% afwyking na die een of die ander kant.
Die komitee het byvoorbeeld heelwat beter gevaar as die toonaangewende Amerikaanse departement van landbou, wat luidens ’n onlangse berig in die Amerikaanse dagblad Wall Street Journal sy oes in die vorige jaar maandeliks met gemiddeld 6% oorskat het.
Weerpatrone se invloed
Die Suid-Afrikaanse komitee skryf sy oorskatting die afgelope seisoen hoofsaaklik aan buitengewone en wisselvallige weerpatrone toe. In talle produksiegebiede was daar uitgerekte droogtes, gevolg deur onvoorspelbare reëntye.
Dit het opbrengsverliese by die meeste gewasse veroorsaak, sowel as ’n moeilike oestyd, lui die komitee se verklaring. Die komitee se ander somergraan- skattings was redelik in die kol, afgesien van die grondbone- oes wat in die finale skatting in September met 6% oorskat is.
Die sonneblomsaad-oes beloop uiteindelik 860 000 ton nadat dié oes in September met 0,2% oorskat is. Die sojaboon-oes is 710 000 ton ná ’n September-onderskatting van 0,2%.
Die grondboon-oes is 64 250 ton (ná ’n September-oorskatting van 6%) en die sorghum-oes is 155 000 ton (ná ’n Septemberoorskatting van 0,3%).
9 Desember 2011