Suid-Afrika se verwagte mielie-oes krimp steeds.
Die Oesskattingskomitee het sy beraming in een van sy laaste produksieskattings van die jaar opnuut afwaarts aangepas met 1,61% tot 10,679 miljoen ton.
Nat toestande
Terwyl vanjaar se (reeds laat) leweringseisoen nou in sy doodsnikke is, het boere teen 19 Augustus nog net 8,2 miljoen ton, oftewel 77%, daarvan gelewer. In die vorige drie seisoene was gemiddeld 77% van die oes reeds teen einde Julie gelewer.
Talle ontleders meen dat vanjaar se oes nóg kleiner kan wees as die geskatte syfer. Op die jongste werksessie van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat was die deelnemers se gevolgtrekking dat tot 5% van die oes vanjaar weens oormatige nat toestande nie afgehaal gaan word nie.
’n Flink uitvoertempo knaag ook steeds aan die nasionale voorraad. Graan SA se jongste verwagting is dat 2,122 miljoen ton hierdie seisoen uitgevoer kan word. Teen einde Augustus (met nog twee derdes van die bemarkingsjaar oor) is reeds amper 1,2 miljoen ton uitgevoer.
Stewige pryse
Die verwagte knap voorraadsituasie hou Safex-pryse stewig. Dit styg steeds na invoerpariteit. Prof. Johan Willemse, landbouekonoom, meen pryse kan die merk van R2 000 per ton verbysteek. Teen middel verlede week was die Safex-witmielieprys 45% hoër as ’n jaar gelede en die geelmielieprys 41% sterker, aldus Graan SA se daaglikse markverslag.
• Die nat somer het die grondboonoes erg geknou. Die Oesskattingskomitee het dié oes in sy jongste produksieskatting met amper 12% verlaag. Die sojaboon- oesskatting is onveranderd gelaat en die sonneblom-skatting is met 5% verhoog.
3 September 2011