Die vraag na Monsanto se mieliesaad in Suid-Afrika met die jongste goedgekeurde tegnologie was só groot dat die beperkte saadaanbod vir die seisoen opgeraap is, sê mnr. Andrew Bennett, bestuurder van tegnologie-ontwikkeling by die maatskappy.
Hy sê wetenskaplike proewe in 2010 en verlede jaar met die nuwe tegnologie Genuity YieldGard ll geneties gemodifiseerde (GM) mielie Mon 89034 X NK 603 (enkelgeen of stapelgeen) het bewys dat stronkboorders nou behoorlik hokgeslaan kan word.
Goedgekeur
Hoewel die eerste proewe in Suid-Afrika al in 2006 begin het, het dit tot Oktober 2010 geduur om die gene plaaslik kommersieel goedgekeur te kry. Daar kon toe eers begin word om mielies vir saad aan te plant.
In die planttyd was daar net sowat 60 000 sakkies van dié saad beskikbaar – genoeg vir sowat 200 000 ha. Die proewe, wat onder streng regulatoriese vereistes van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op Bethlehem, Bothaville, Hertzogville en Jan Kempdorp gedoen is, het ’n gemiddelde opbrengs van 7t/ha behaal. Die hoogste was 11t/ha onder besproeiing op Hartswater naby Jan Kempdorp.
“Dit is die gebied waar voorheen geringe probleme ondervind is met die bestryding van stronkboorders met Yieldgard I (Bt-mielie). Met die nuwe tegnologie was die bestryding uitstekend en is geen weerstand ondervind nie.
Twee verskillende proteïne
"’n Besonderse kenmerk van die nuwe tegnologie is dat die mielieplant twee proteïene bevat wat veral twee stronkboorders, Busseola fusca en Chilo partelus, in hul spore stuit,” sê Bennett.
Die twee verskillende proteïene werk saam om die plant teen stronkboorders te beskerm en dit is moeiliker vir die insekte om weerstand op te bou. Die proteïene kom in die hele plant voor, insluitend die pluim en baard.
Dit beteken dat daar nie ’n tydperk sonder beskerming is soos met die huidige YieldGard I (Bt-mielie) nie. As deel van die stapelgeenpakket bied NK603 verdraagsaamheid teen onkruiddoder.
Bennett beklemtoon dat die korrekte plant van toevlugsgebiede rondom YieldGard ll lande steeds van die uiterste belang is om die tegnologie teen insekplae te beskerm.
1 Februarie 2012