Die krisis waarin talle mielieboere hulself tans bevind, kan lei tot die mislukking van 10 800 boerderye, sê Solidariteit.
Luidens ‘n mediaverklaring is die vakbond baie bekommerd oor die jongste voorspellings van Graan SA oor die voortbestaan van mielieprodusente.
Die organisasie voorspel dat tot 30% van die land se mielieboere nie met hul boerdery bedrywighede sal kan voortgaan nie weens die lae mieliepryse. “Dit beteken dat tot 10 800 boerderye kan misluk,” lui die verklaring.
Werkverliese op die platteland
Mnr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van die vakbond, sê dít kan tot gevolg hê dat talle kleiner plase deur groter eenhede opgekoop sal word, wat sal lei tot werkverliese onder plaaswerkers.
“Die verlies aan koopkrag in die plaaslike gemeenskappe kan ? maatskaplike krisis in die nabygeleë dorpe tot gevolg hê. Só ? radikale omwenteling in die landbou sal ? ongunstige uitwerking hê op skole, kerke en die plattelandse ekonomie,” verduidelik Hermann.
Die vakbond se navorsingsinstituut bied Vrydag (27 Augustus) ‘n konferensie by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie se kantore aan om die situasie te bespreek. Graan SA, Agri SA en die TLU SA sal afgevaardigdes toespreek.
26 Augustus 2010