Gaan ek nou mieliepap in Rome kan kry?
Só is sommer gou op Twitter getwiet in reaksie op die nuus dat Suid-Afrika vir die eerste keer in jare, indien ooit, wit mielies na Itali? toe uitgevoer het.
Die 35 200 ton was die enigste diepsee-uitvoer in die week van 5 tot 11 Maart (die jongste waarvoor statistiek beskikbaar is), en deel van altesame 44 818 ton wit mielies wat in daardie week uitgevoer is. Die res was na buurlande.
Reuse-sprong
Dit was ’n reuse-sprong in die weeklikse witmielie-uitvoertempo, wat sewe weke voor die einde van die bemarkingsjaar op 15 614 ton staan. Die besending na Itali? was veral welkome nuus omdat dit na ’n nie-tradisionele uitvoermark buite Afrika was.
Suid-Afrika se witmielie-uitvoer het die afgelope jaar swaar getrek omdat talle van die tradisionele uitvoermarkte in die res van Afrika klaarblyklik in ’n groot mate selfvoorsienend was. Die res van die wêreld koop tradisioneel geel mielies.
Soek nuwe markte
Die Regering en Graan SA werk albei hard om nuwe uitvoermarkte vir veral wit mielies te vind. Met minder as twee maande tot die einde van die huidige bemarkingsjaar einde April, is die aanduidings dat die jaar se totale mielie-uitvoer op minder as 2 miljoen ton te staan kan kom.
Dít behoort, volgens Graan SA se berekeninge, ’n oordragvoorraad van sowat 2,8 miljoen ton te laat, wat 28% van die jaarlikse binnelandse verbruik verteenwoordig.
Die benodigde pyplynvoorraad, om in die binnelandse behoefte te voorsien, is sowat 1,2 miljoen ton. Daar is dus nog oorgenoeg opgehoopte mielies wat uitgevoer kan word.
Tot dusver is 1,6 miljoen ton Suid-Afrikaanse mielies sedert 1 Mei verlede jaar, die begin van die bemarkingsjaar, uitgevoer. Die gesamentlike weeklikse uitvoertempo staan op 35 616 ton, en die geelmielie-tempo op 20 000 ton per week.
Om binne die volgende sewe weke genoeg uit te voer om ’n jaar-eindtotaal van 1,95 miljoen ton te behaal, sal die gesamentlike tempo tot net onder 50 000 ton per week moet versnel. As die heersende tempo gehandhaaf word, behoort die totale uitvoer vir die jaar 1,85 miljoen ton te haal, bereken Graan SA.
Volg Landbouweekblad hier op Twitter.
17 Maart 2010